Dis deesdae nie ongewoon om te hoor iemand is moeg as jy vra hoe dit gaan nie. Soos wat die lewe vinniger raak, kom uitputting ook meer gereeld voor.

Woorde Deidre Donnelly

‘n meer as die helfte van my konsul-tasies, kla pasiënte oor moegheid,’ sê dr. Antonie Rod, ’n spesialis-internis by Mediclinic Milnerton, Kaapstad. ‘Dis een van die hoofredes waarom mense na ’n huisdokter, internis of endokrinoloog toe gaan.’

Hoewel dokters dié algemene klagte ondersoek deur eers na die gewone sondaars te kyk – slegte slaapgewoontes, stres, ’n maat wat snork en so meer – is hulle ook op die uitkyk vir ander simptome. En jy moet ook, want uiterse moegheid is die hoofsimptoom in verskeie gesondheidstoestande. ‘Amper elke soort siekte kan gepaard gaan met chroniese moegheid,’
sê dr. Rod. As jy al vir ’n lang ruk moeg is, skielik begin moeg raak het of daar nie ’n spesifieke oorsaak vir jou moegheid is nie, skenk aandag daaraan. Hier is waaroor jou liggaam jou dalk waarsku…

  1.  Jy het geestelike ondersteuning nodig
    ‘Stresvolle werk, ’n sterfte, onlangse ouerskap en belangrike lewensgebeure moet alles oorweeg word wanneer dit by moegheid kom,’ sê dr. Daksha Jivan, ’n endokrinoloog by Mediclinic Morningside en die Wits Donald Gordon- mediese sentrum in Johannesburg.
    Hier-die faktore is algemene rusverstoorders – nes depressie. ‘Depressiewe pasiënte voel soms moeg of dat hulle minder geslaap het as wat hulle in werklikheid het, of hulle ly aan ware slaapstoornisse. Soms sal ’n depressiewe persoon hipersomnie ervaar, waar hulle oormatig baie slaap,’ verduidelik dr. Rod.
  2.  Jou lyf kom nie tot rus nie
    As jy behoorlik wil rus, moet jy na jouself omsien. Jy weet dalk te min oefening kan jou moeg maak, maar het jy geweet te veel oefening kan dieselfde doen? Oefening verhoog jou vlak van adrenalien (’n streshormoon), dus moet jy nie te veel of te laat in die aand oefen nie. Vermy ander stimulante soos kaffeïen, alkohol, nikotien en selfs sosiale media. ‘Studies op die UV-lig wat rekenaarskerms, selfone en tablette afgee, toon dit kan veroorsaak dat jy sukkel om aan die slaap te raak. Moet dus nie te laat werk of elektroniese media in die slaapkamer lees voor jy gaan slaap nie,’ sê dr. Rod.
  3.  Jour diet skiet te kort
    Voedingstekorte kan bydra tot moegheid. Jy kan veral te min vitamiene B1, B12, D, jodium, yster, magnesium of sink hê, sê dr. Jivan. Mettertyd kan dié tekorte jou benadeel.
  4.  Jour bloed is stadig
    Die algemeenste voedingsverwante tekort, veral in vroue wat menstrueer, atlete en vegetariërs, is anemie of bloedarmoede – ’n tekort aan yster wat dit vir rooibloedselle moeilik maak om suurstof na die liggaam se selle te vervoer. Wat is nog tekens dat jy dalk anemies is? Jou vel kan ongewoon bleek wees, jou hart kan vinnig klop en jy kan geïrriteerd wees. Bloedtoetse kan vasstel of dit die geval is en indien nodig, sal jou huisdokter vir jou ’n ysteraanvulling voorskryf. Jy sal dalk ook ’n ysterryke dieet, wat rooivleis, donker blaargroente en peulgroente insluit, moet volg.
  5.  Jou lewer werk nie behoorklik nie
    ‘Enige toestand wat met inflammasie van die lewer gepaardgaan, sal aanhoudende moegheid
    ver-oorsaak,’ sê dr. Rod. Dit sluit hepatitis B en C, sirrose en lewer-toksisiteit weens die newe-effekte van medikasie in. Ongelukkig is lewertoestande dikwels in die begin ‘simptoom-vry’. Ander tekens en simptome van swak lewer-gesondheid is geelsug, verlies aan aptyt, as jy maklik kneus en verwardheid ná ’n proteïen-ryke ete (in die geval van sirrose). ‘Daar is ’n aantal algemene bloedtoetse vir lewerfunksie wat jou dokter kan doen,’ sê dr. Rod. ‘Gelukkig is die lewer taamlik veerkragtig en kan dit herstel as dit reg behandel word.’
  6.  Jy het ’n slaapstoornis
    Dr. Rod stuur gemiddeld een tot twee pasiënte per week vir slaapstudies, aangesien slaapapnee toenemend algemeen voorkom. Slaapapnee, ’n slaapstoornis wat gekenmerk word deur onderbroke asemhaling, word geassosieer met vetsug, diabetes, hipertensie en hartversaking. Hoewel dit taamlik algemeen is, sê dr. Rod dit word ongelukkig dikwels eers gediagnoseer ná ’n katastrofiese gebeurtenis, soos ’n industriële of motorongeluk. As jy soggens nie uitgeslaap voel nie, as jou maat sê jy hou snags op asemhaal, as dit voel of jy verstik wanneer jy slaap of as jy hoë bloeddruk het wat moeilik is om te behandel, maak ’n afspraak by een van die Mediclinic-slaapsentrums. Gaan kyk op www.sleepclinic.co.za vir die een naaste aan jou.
  7.  Dis ’n endokriene kwessie
    ’n Skildklier wat wanfunksioneer, veral hipo-tireose (’n onderaktiewe skildklier) kan uitputting veroorsaak. Maar ’n aantal ander endokriene toestande (diabetes mellitus, adrenalientekort, groeihormoontekort en meer) het uitputting as hoofsimptoom, sê dr. Jivan. ‘Ander simptome kan vaag en nie-spesifiek wees; dit is dus belangrik dat mense bewus is van hul simptome en ’n dokter gaan spreek as hulle onseker is.’ Wees op die uitkyk vir duiseligheid, depressie, geheueverlies, ’n lus vir koolhidrate, swak konsentrasie, vroeë begin van osteoporose, gebrek aan seksuele opwekking of verandering in gewig. Vroue kan oormatige groei van liggaamshare, afskeiding uit die borste en ongereelde maandstondes ervaar.
  8.  Daar’s ernstige inflammasie
    Chroniese inflammasie put die liggaam uit. Dit kan voorkom wanneer die liggaam se immuunstelsel homself aanval, soos in die geval van outo-immuuntoestande soos rumatoïede artritis, lupus en fibromialgie. Dit kom gewoonlik voor by middeljariges en bejaardes en gaan gewoonlik gepaard met die kenmerkende tekens van gewrigs- en spierpyn. ‘Die meeste kankers, veral die hematologiese kwaadaardighede wat bloed, been, beenmurg en limfkliere affekteer, vervaardig sitokene, wat ook inflammasie en uitputting veroorsaak,’ sê dr. Rod. Waarskuwingstekens hier: ongewone bleekheid, kneusplekke, donker vlekke (naamlik petegie) op jou vel of tandvleis, en bloeding wanneer jy tande borsel.
  9. Jou hart het hulp nodig
    Uitputting is een van die hooftekens van ’n hartaanval by vroue, tesame met sweet, pyn en ongemak in die bors, arm of maag, kort van asem, duiseligheid of naarheid. Navorsers het gevind uitermate of ongewone moegheid is ’n belangrike vroeë waar-skuwingsteken, aangesien baie vroue glad nie borspyn of ander simptome ervaar nie. Kyk dus mooi na jou hart: Volg ’n hart-vriendelike dieet, oefen gereeld en gaan gereeld na jou huisdokter toe vir ’n ondersoek.

You can read this article in English, too.

The information provided in this article was correct at the time of publishing. At Mediclinic we endeavour to provide our patients and readers with accurate and reliable information, which is why we continually review and update our content. However, due to the dynamic nature of clinical information and medicine, some information may from time to time become outdated prior to revision.